Voorbeeld Hoofstuk 5 (bl.37):
Ek was nog nooit gelukkig nie
Ek het jou verneuk
As gevolg van groeiende finansiële druk en die groeiende uitgawes op een inkomste is die onderliggende spanning in ons huis konstant. Dinge by die werk neig heeltyd verkeerde kant toe en my verwagtinge realiseer nie. Dit plaas druk op my ego en knou my selfbeeld. Suzette se besigheidspogings lewer een na die ander, geen werkbare bydrae nie. Ons gesprekke word afgewissel deur betekenislose ditjies en datjies en woedeuitbarstings. Ons fisiese verhouding is ’n eenrigting oefening wat selde, indien wel, realiseer. Vir byna ’n jaar vertel ek vir niemand hoe desperaat ons verhouding geraak het nie – almal dink dit gaan goed met my Suzette...! Verskeie kere dring Suzette daarop aan dat ons iemand moet gaan sien. Maar ek stel dit uit, want ek glo ons kan die ding self regmaak. Ons probleme is tog nie so groot nie. Ons is albei lief vir die Here en wat my betref het ons alles wat ons nodig het om die ding reg te gesels, reg te werk en reg te bid. Ek was totaal blind vir die erns van ons probleem, en my eie onvermoeë om dit reg te stel. ’n Groot fout. Iewers vroeg in Desember 1999, voor enige millennium bom kan bars, ontplof daar in ons binnekamer ’n reuse bom. Dit was ’n sweer wat reeds agt jaar vantevore begin opbou het as gevolg van die geraamtes in ons kas.
Te midde van die soveelste herhaling van ons “Zelda-gesprek” spoel dit uit haar binnenste uit: “Ek en Chris het agt jaar gelede seks gehad toe jy en Zelda kerk toe was om voorsang te gaan oefen!” Dit het gevoel asof my hele wêreld op daardie oomblik opgehou het om te bestaan. Soos ’n toeskouer het ek die storie voor my sien afspeel en soos ’n patetiese klein seuntjie het ek uit die kamer gehardloop en op die sitkamermat inmekaar gesak. Die verwyt en woede van soveel jare se selfgesprekke, soveel jare se rasionalisering, soveel skuldgevoelens van ’n “voorgeelewe” het ’n monster in Suzette losgelaat. Sy het my fisies getakel terwyl sy oor en oor dieselde beskuldigings geskreeu het: “Hoekom het jy my nooit nommer een laat voel nie! Hoekom het jy nie na my geluister toe ek gevra het dat ons iemand moet gaan sien nie! Hoekom...! Hoekom...! Dit is alles jou skuld!” In die weke wat hierna volg kom ander lelike werklikhede na vore. Sy en Andries de Koker was vir ’n paar maande al meer as ou familievriende. Hy het haar verstaan, na haar geluister, haar getroos en toe reeds verskeie kere aan haar fisiese behoeftes voldoen. Sy was vir lank reeds nie-amptelik meer my vrou nie... en sy het geen begeerte gehad om dit meer te wees nie.
Soveel keer het ek as ’n jong getroude man dit duidelik gemaak dat dit die een ding is wat ek nie sou kon aanvaar nie, as Suzette my ooit sou verneuk moes sy maar haar goed pak en gaan. Nou het die realiteit van ons situasie my laat besef, dat ek nie ’n idee gehad het waarvan ek gepraat het nie. In my wêreld was daar nou nie net Suzette nie, maar my hart het homself in drie ander wonderwerkies verdeel wat in die lywe van Waldi, Ameé en Reine in ons huis rondgeloop het! Hulle sou die onskuldige slagoffers hiervan wees! Hulle was vir ons albei lief en het ons altwee nodig gehad. In die dae wat volg ry ons wipplank tussen die aanvanklike hoop dat ons dit sal kan uitwerk.. Nou het ons verkeie beraders gaan sien... My swaer betaal vir ’n huwelikspaartje naweek saam met Sors en Lida Geldenhuys. Suzette gaan saam teen haar wil en beleef vir ’n oomblik twyfel oor die pad wat sy gekies het. Een kort oomblik van hoop - maar duidelik was dit alles te min, te laat. Die uiteinde... sy is nie lief vir my nie, sy wil nie meer nie. In April 2000 trek ek uit ons huis in ’n twee-vertrek woonstelletjie agter in ’n kollega se erf in. Soos ek nog altyd na die lewe gekyk het, was sekere dinge taboe vir iemand wat regtig die Here liefhet – egskeiding was een van hulle. Sulke gebeure was in my gemoed nie eers ’n moontlikheid nie. Ons is albei lief vir Jesus. Ons bid saam, lees saam Bybel, gaan saam kerk toe... ’n Resep vir ’n geslaagde, gelukkige huwelik! So het ek die voorbeeld van my eie ouers; en as mens met iets begin – maak jy dit klaar! Opgee is nie deel van ons samestelling nie... selfs al is jy die enigste student in ’n seweverdieping koshuis, besig om jou graad te voltooi – maak jy dit klaar... En ek het! 40
Hoe kies mens dan om nie meer vir ’n ander lief te wees nie... want dis wat ek nou moes doen? Die pyn was onbeskryflik, die verleentheid amper nog erger; die gevoel van mislukking; die gekrenkte ego, maar die verlies van my lewensmaat en die skeiding van my drie kinders, die heel seerste.